Geheime van Jou Planeet

Posted by admin Category: Category 1

Vleesbaai was vir ons nog altyd baie spesiaal. Klein, eenvoudig, sonder verkeer en stil. So stil soos dit in ‘n opname ateljee moet wees. So, dit help natuurlik dat ons vervaardiger se familie ‘n strandhuis daar het. ‘n Strandhuis met klomp matrasse en komberse teen die mure en ruite. Só bou Kaleidoskoop en kie ‘n studio met ‘n see-uitsig en‘n kaggel. Geen buurman sou kon raai dat dit wat daar binne aangaan glad nie eintlik so verdag is soos wat dit lyk nie.

Tydens die pre-produksie van ons eerste album – ‘Platsak’ – was Anique nog besig om haar honneurs in fisiologie klaar te maak. Dus was dit Jouba en Ben (ons vervaardiger) se voorreg en taak om in Vleesbaai se strandhuis in te vaar en daar uit te stap met ‘n stukkie goud in die sak. Soos met alles in die lewe het dít wat gelykstaande is aan goud, ‘n prys.

Nadat die sitkamer onherkenbaar gelaat is deur ‘n gedaanteverwisseling, was dit tyd om te begin skuur, skaaf en opneem aan die verskillende klanke van ‘Jou Planeet’ – ‘n lied oor hoe ‘n meisie met ‘n mooi en rein hart die wêreld sien. Spoedig sou hul agter kom dat een van hierdie klanke nie deur hulle gemaak word nie, maar deur ‘n hele nes vol klein raas-bek voëltjies in die skoorsteen van die kaggel! As die mamma-voël uitvlieg is hulle doodstil, maar as Mamma terugkom met ‘n paar wurms, juig die skares tot lánk na die laaste een opgeëet is. Hoe nou gemaak? Maklik. Maak ‘n vuur en rook hulle uit!

Hoogs onsuksesvolle poging, maar vinnig het hulle egter besef dat honger voëltjies die minste van hul probleme gaan wees, want daardie nag het daar ‘n storm losgebars. ‘n Storm wat dit laat voel het asof die hel op die Indiese oseaan neerdaal in die vorm van wind en reën. Wind en reën wat toe besluit het om een van die dakbalke uit die muur los te wikkel en sodoende onaardse skarnier-geluide te veroorsaak! Vleesbaai se studio was alles behalwe stil genoeg en nog minder veilig genoeg vir dié twee manne. Die plan was spoedig beraam – Jouba sal vir Ben op sy skouers tel (want Jouba is te swaar vir Ben) en Ben sal die dakbalk vasbind en anker met ‘n tou.Hierdie keer ‘n heel suksesvolle poging – ten spyte van die yskoue reën in hulle oë en moedswillige wind wat dié ‘top-heavy’, dubbel-verdieping man ‘n paar keer van die balkon wou afruk.

Tussendeur daardie aand se opwindende gebeure het Jouba en Ben gepoog om ‘n trekklavier op te neem. Die skril skarnier-geluide was duidelik hoorbaar in die agtergrond van die opname en die plan was om laasgenoemde weer oor te doen. Na ‘n wyle het hul besef dié geluide dra egter só mooi by om ‘n baie gepaste atmosfeer te skep vir die lied. Nóú is daar nie nét ‘n reminder van ‘n goeie avontuur-storie vasgevang in dié snit nie, maar ook die klank van ‘n ‘meisie met ‘n mooi hart wat op ‘n swaai ry’!

Ons almal trotseer soms storm-weer en situasies wat dreig om ons dakke te lig…soms ‘ruk dit mal,tot die dak inval’ – soos die wyse spreekwoord lui.Uit óns Vleesbaai-storie kan mens aflei dat jy slegs sulke stroms kan deurstaan deur stewig geanker te wees in die Fondament van jou huis… en van jou planeet. Mens is dikwels geneig om dan in survival mode in te gaan, maar dit blyk tog moontlik te wees om die beste van ‘n storm-situasie te kan maak. Die kreun en steun, golwe en geluide van hierdie tye kan wel ‘n positiewe bydrae maak tot ‘n pragtige lewenslied.

Leave a Reply