O die ouderdom

Posted by admin Category: Category 1

‘n Gewilde en redelik konservatiewe radio stasie nooi ons een oggend om te kom gesels op die lug. Ons stap deur ‘n baie netjiese gebou tot in die ewe netjiese ontvangs-lokaal. Dis hier waar ons wag vir die aanbieder om ons te kom haal en na die ateljee toe te neem. Ons is heelwat te vroeg vir die onderhoud. Dus word die tyd verdryf deur die vertoonkaste te bekyk. Groot glaskaste vol ou plate en tydskrifte met die gesigte van oud-presidente daarop. Al die tafels is met gevrommelde organza versier en groot potte vol blomme lei ons om die bos, tot ons nader stap om te voel dat dit níé die ware Jakob is nie.

Die ontvangsdame verskoon haarself vir ‘n oomblik. Nét toe kom die aanbieder in om haarself voor te stel, maar sy word deur die gelui van die ontvangs-telefoon onderbreek. Sy lig haar hand verskonend en hardloop agter die toonbank in om die foon te antwoord.

“Ja, goeie more tannie. Nee, maar ek gee gou vir jou die regte nommer vir dáárdie afdeling. Het tannie ‘n pen?” Nie een van ons het al ooit so ‘n sprankelende vrou gesien nie.Sy bons behoorlik op en af met elke woord wat sy uiter en mens hoor sommer die glimlag in haar stem! “Is tannie reg? Goed hier kom die nommertjie hoor. Nul, twee, een, agt….agt, nee agt” Ons besef die tannie aan die ander kant van die lyn is beslis oud genoeg om ‘n gehoor-apparaat te benodig. “Goed tannie, ek begin weer. Nul, twee, een, agt….nee, nie nul nie tannie, dis ‘n agt. Nee nie twee agts nie net een.” Sy lag. “Nee tannie, ek bedoel een agt, nie nog ‘n één nie.” Aan haar gesig kom ons agter die sprankel maak nou ‘n draai na irritasie se kant toe, maar sy hou die glimlag in haar stem en haar pose baie mooi. “Wil tannie gou weer begin? Goed, sekerlik tannie, hier kom …” Sy luister na die dowerige tannie en antwoord haar op die kostelikste manier. Haar oë styf toegeknyp om te keer dat sy nie in die tannie se oor lag nie. “Nee, nooit nie! Tannie is nie dom nie, tannie is net tágtig en dis WONDERLIK!”

Leave a Reply