Booking blues

Posted by admin Category: Category 1

So gepraat van venues wat mens soos ‘n warm patat behandel…

Daar is ‘n teater in ‘n sekere klein ooskus-dorpie. Geen name… maar dáár hou die locals van branderplank ry. My pa het altyd gesê mens kry skurwe knieë van surf... nou twyfel ek of hy van die sport of die waspoeier gepraat het?

In elkgeval, ons was baie opgewonde om vir die eerste keer by dié teatertjie te gaan speel in 2010. Almal het altyd van die plek gepraat… veral hoe lekker dit Desembers daar is en hoe cool die vibe is. Ek was nog nooit eers in dié dorpie nie, maar daar is ‘n eerste keer vir alles… min wetend dat ons op die dag van die vertoning ‘n ander soort “eerste” sou beleef.

Ons het seker gemaak ons daag vroeg op. Liewers genoeg tyd om klank op te stel en te toets voor die massas opdaag om te eet voor die vertoning begin. Ons het ons aan die gebou vergaap. Daar was snaakse beelde op die dak, vreemde kunswerke teen die buite-mure en krale en botteltjies wat hang oral in die bome. Die deure… die deure was bot… bot toe. Daar was nie eers ‘n oop venster om deur te klim soos ons een jaar noodgedwonge in Hartenbos moes doen nie.

Ons het gebel. Selfoon… af. Landlyn lui en lui binne die gebou, maar geen mens antwoord.

Moeg gesukkel, besluit ons toe om honger te wees i.p.v. kwaad. In die hoofstraat vind ons ‘n gebou met ‘n driepoot-pot op die muur en stap in. Die kelnerin was vriendelik. Sy vra waar ons vandaan kom en uit frustrasie deel ons sommer net daar met haar ons hele sak patats, pynappels en moerbeie.

Lang storie kort, die kelnerin het die dogter van die eienaar geken en vir ons haar nommer gegee. Dié sit toe by haar kêrel êrens op ‘n plot en ons ry summier soontoe net om uit te vind die eienaar sit op haar beurt by háár kêrel op ‘n plaas, vêr weg, sonder sein.

Kyk, van verstrooide kuns-koppe kan jy ons niks vertel nie. Ons werk gereeld met hulle en tot ons eie (en mekaar se) frustrasie IS ons soms hulle! Verstrooidgeit is soms te danke aan kunssinnigheid, soms aan muisneste of verliefdgeit, maar in die ergste gevalle is dit te danke aan ‘n kombinasie van al die bogenoemde.

Moenie vra hoe nie, maar binne ‘n halfuur het ons die sleutel van die gebou, twee kelners, ‘n barman en ‘n skoonmaker opgespoor. Die klank opgestel, getoets en skoon klere aangetrek.

Ek moet sê, nog nooit was daar wéér ‘n show waar die personeel die gehoor outnumber het nie… drie mense by een tafel vir wie ons ‘n volle vertoning van veertien liedjies gesing het.

In die jare daarna het ons gehore vir dié teater, stadig maar seker, die personeel-lede se getalle verby gesteek. Tot ons verlede jaar wraggies ‘n vol-huis gehad het en ‘n paar mense moes wegwys. Dit kos verbasend meer as wat mens dink om jou moed finaal te breek.

Wát ‘n goeie les om te leer, aanhouer wen… wát ‘n lekker persoonlike oorwinning!