Wegbreek

Posted by admin Category: Category 1

Ons nuutste enkelsnit, wat gister vir die eerste keer op radio gespeel het, gaan oor die neiging wat ons almal het om nou en dan uit die stad, of die dorp waarin jy woon, los te kom. Om uit te span by die see of met ‘n grondpad êrens perspektief, eenvoud en ook vrede te gaan vind.

Ons is albei van die platteland so ons verlang gereeld na die plaas en die klein dorpies waarvandaan ons kom. Ons mis die mense, die eenvoud en rustigheid van lewe in die platteland en só verwoord die liedjie wat in ons harte aangaan as die tye in die stad te lank raak.

Soos die einde van die jaar nader kom, behoort meeste mense se harte te resoneer met die inhoud van die liedjie se lirieke. Ons het dit juis as eerste enkelsnit in November gekies, aangesien ons oortuig is dat die liedjie die vakansie-gees in mense gaan begin losmaak en ‘n positiewe energie en opwinding gaan ontlok.

Die lirieke van die lied sal nostalgie aanwakker in enige mens wat spore van avontuurlustigheid in sy are het… wat maar by ons almal ingebore is, maar soms dormant lê. Nog meer so vir mense wat regtig nodig het om bietjie weg te breek van die besige lewe af. Dalk sal die lied ‘n paar sakemanne net daardie finale hupstoot gee om in die kar te klim en net saam met hul gesinne kwaliteit tyd te gaan spandeer en lekker te rus!

Ons hoop jy luister hom iewers raak en dat die banjo en mandolien dadelik ‘n lekker “plaas”- of see-vakansie armosfeer tuisbring… reg vir in die motor spring en roadtrip! Ons wens is dat jy weer ‘n voorsmakie sal kry van hoe dit voel as die son warm aan jou vel kom kleef.