Roadtrip

Posted by admin Category: Category 3

Jy kan dit vir seker al klaar in die lug voel. Jy sien dit op die gesigte van kinders en ouers in die winkelsentrums. Die uitdrukking verskil wel – kinder-gesiggies is opgewonde, maar daar skuil ‘n bekommernis op die bakkies van sommige ouers…”wat gaan ek met my kinders aanvang vir ses weke hierdie vakansie?”

Toe ek ‘n kind was, was daar niks lekkerder as daardie laaste dag van skool voor die Desember vakansie nie! As jy gelukkig was het jy ‘n goeie raport in ‘n baie leë tas en ‘n vuil skool-univorm op die grond neergegooi en dadelik die dae van vryheid aangegryp! In ons huis was “weg” Desember-vakansies nie so volop nie – wynboere vat vakansie in April – ná die pars. So, waarna ék kon uitsien was om die groot, blou, bus-karavaan met die lorrie-kop en ses beddens te pak vir ons uittog… tot by die wal van die Breërivier wat net drie kilometer van ons huis af oor die plaas vloei.

Dit het altyd gelyk of ons trek. Bokse vol kos en drankies, sakke wingerd-stompies vir braai-hout, vrugte, handoeke, swemklere, sonroom, leesboeke, bord-speletjies, iets wat lyk soos ‘n foamalite-surfboard, drie snorkende pug-honde en baie, baie vleis. En moet tog nie die ou FM-pie wat my pa gewoonlik aan die lorrie-kop se battery koppel en dan aan die boom ophang vergeet nie. Al wat ons nie ingepak het nie was stort-goed, want ek en die drie pugs was elke aand klokslag kwart-oor-ses agter op die bakkie gelaai met die woorde: “Kom, jou ma se huis-godsdiens gaan begin!” Dan was ons op pad huistoe vir 7e Laan en alle bad-kamer doeleindes.

My hart was altyd dankbaar vir ons tien-minute roadtrips tot by ons kamp-staanplek. Al het ek verlang na die see en ‘n regte-egte strandhuis, was daai diep gat in die rivier – wat eintlik vir die besproeïngs-pomp bedoel was – nie tweede beste nie, maar die hoogtepunt van my vakansie.

Kaleidoskoop wens dat jy jou familie en die klein goedjies sal raaksien en waardeer hierdie fees-seisoen. Maak die meeste van jou roadtrip – al is hy net tien minute lank.

Gaan kyk gerus na ons musiek-video van Roadtrip op ons webtuiste www.kaleidomusiek.co.za