Kaleidokersfees

Posted by admin Category: Category 1

Nét voor Kersfees, kan ons nie anders as om te dink aan naby en vêr familie, baie kos op lang feestelike tafels, kinders wat rondhardloop en lag tussen kersgeskenke en swerms fairy lights en natuurlik Christmas carols nie.

Toe ek einde November – ná ‘n lang tyd in die Kaap – by ons plaaslike Spar in Pretoria instap, het ek amper ‘n traan gepik. Nie omdat ek die honger bedelaars of ou-mense met hul swaar inkopie-sakke jammer gekry het nie, maar omdat Boney M se Mary’s Boy Child kliphard oor die klanksisteem geblêr het.
Ek was skielik weer vier jaar oud en saam met my suster in ons kamer op die plaas. Albei nog in die bed, al is dit ná tien op ‘n Saterdag-oggend. Dit was die reël en die ritueel. Saterdag-oggende en vakansie-oggende moes ons láát lê sodat my arme ma haar werk kan klaar kry sonder dat ons haar pla. Dit was “plate-speler tyd”. Van Anneli van Rooyen, Gé, Bles, tannie Carike, Groep Twee, reg deur tot by Boney M wat hul opwagting altyd naby Kerstyd gemaak het. Daar was nie ‘n plaat wat ons nie van voor tot agter geken het nie. Ons het selfs geweet presies waar elke plaat gewoonlik haak, en het gestry oor wie sou opstaan om die speler ‘n klap te gee.
Ek besef skielik die mense in Spar kyk my snaaks aan – sommiges lyk bietjie geïrreteerd omdat ek die hele gangetjie vol staan met my trollie wat nog niks in het nie, ander toon bietjie simpatie – omdat hulle kan sien dat ek effens bewoë is.
Dat een liedjie so ‘n warboel van emosies in mens kan wakker maak… jou kan terug vat in tyd én jou sintuie só om die bos kan lei, dat jy jouself verbeel jy sien en ruik die kamer waar jy was toe jy daardie deuntjie gehoor het.
Ek glo dit is iets waarna Kaleidoskoop (en ek hoop alle ander kunstenaars) streef. Om iets in ‘n liedjie vas te vang wat emosies wakker maak, herhinneringe ontlok en jou vir ‘n oomblik na jou gunsteling plek kan neem.
Daardie dag – ná my nostalgie-aanval in Spar – het my oë die boemelaar met sy kitaar, die bussie vol ou mense en die kar-wag, anders bekyk.
As jy mooi dophou hierdie kerstyd… sal jy iemand raaksien wat hunker na hulle gunsteling plek. ‘n Singende boemelaar, ‘n kar-wag in die warm son, ‘n ou omie met ‘n swaar sak inkopies wie se vrou hierdie kersfees vir die eerste keer níé daar is om sy gunsteling kers-kos te maak nie. ‘n Soet glimlag of n hand-druk kan een van hulle terug neem na daardie gunsteling plek in hul hart.
Kaleidoskoop wens dat jy 2016 se kersfees en nuwe-jaar as een van jou gunstelinge sal onthou.