Gunsteling Seisoen

Posted by admin Category: Category 1

 

So tussendeur die kuier en gesels met vriende en familie op ons Desember kus-toer, het ons tot die besef gekom dat 2016 vir baie mense ‘n moeilike of uitdagende jaar was. ‘n Seisoen vol toetse – waarvan hulle sommiges geslaag en ander gedruip het. Kaleidoskoop het ook só ‘n jaar van toetse beleef. Toetse van ons geduld, geloof, karakter en soms ook die vermoë om positief te kan wees in alle omstandighede.

Met die afsluit van 2016 en die begin van ‘n nuwe jaar, wil ons graag glo: nuwe jaar, nuwe dinge!

Ons wil bitter graag een van Kaleidoskoop se nuwe dinge vir 2017 met elkeen van julle deel… ‘n Splinternuwe oorspronklike album met die naam: Gunsteling Seisoen. Dit is bykans vier jaar sedert ons ‘n oorspronklike album vrygestel het, so die afwagting in ons harte groei by die dag. Ons hoop en glo, met elf nuwe oorspronklike liedjies uit ons albei se penne, asook twee Engelse verwerkings van bestaande liedjies, dat dit die lang wag werd gaan wees!

Ons het geen idee wat elkeen van julle se Gunsteling Seisoen is nie, maar ons weet dat in elke seisoen daar iets te leer is. Of dit nou dankbaarheid in die somer, vertroue in die lente of volharding in herfs is… of net die vermoë om die mooi van winter ook raak te sien ten spyte van hartseer of swaar omstandighede.

Wees asseblief saam met ons opgewonde oor die begin van jou en ons Gunsteling Seisoen! Dít is die seisoen waarin daardie “konstante iets of iemand” in jou lewe voluit teenwoordig is – wat énige seisoen draaglik maak. Kaleidoskoop nooi jou uit om solank jou Gunsteling Seisoen te kies… die rede daarvoor is iets wat jy slegs by die bekendstelling van óns Gunsteling Seisoen sal uitvind.

Kom kuier gerus saam met ons by Atterbury Teater in Pretoria die 24ste, 25ste of 26ste Maart 2017. Kaartjies word deur Computicket bespreek.