Agter die skerms

Posted by admin Category: Category 2

Hierdie is amptelik ons laaste blog voordat Roadtrip nié meer die titel van: “ons nuutste oorspronklike musiek-video” dra nie. Binnekort sal ons julle meer kan vertel van die nuweling, Wegbreek, wat híérdie posisie gaan beklee, maar vir nou – ‘n kykie na dít wat agter die skerms met die skiet van Roadtrip gebeur het.
Ons self is nie twee wafferse akteurs nie. Die aanhoudende perongeluk-in-die-lens-kyk en senuagtige gegiggel het dié feit lankal verklap. Dus het dit net sin gemaak om, soos in Vars uitgekerf se video, gebruik te maak van die gewillige harte en beeldskone gesigte van ons goeie vriende.

Die verloofde paartjie – Ed en Christél Beukes – wat te siene is in Vars uitgekerf, is wéér ingespan. Hierdie keer het hulle – as getroudes – die rolle van twee musikante wat hul trein verpas, gespeel. Ons was eintlik heel verras toe hulle instem vir die tweede video, aangesien ons hulle albei perongeluk voedselvergiftiging gegee het op die stel van Vars uitgekerf! Al verskoning wat ons aan kon dink was om te sê dat ons net hul wáre akteurs-vernuf wou toets. As deeltydse modelle is die Beukesse duidelik baie meer tuis voor die kamera as ons… seer maag of te nie.
Saam met die res van die musikant-vriende wat ons langs die pad opgelaai het, was onder andere, die Brummer-tweeling… of soos ons daarvan hou om hulle te noem – die “ice-age possums”. Natuurlik lyk hulle na mekaar, maar hulle voltooi ook mekaar se sinne, surf saam, werk gereeld saam aan hulle ligblou Dutsun bakkie se enjin, en het (vrot van die verkoue) op die stel van Roadtrip, mekaar gesond-gedokter en -gebid. Meer positiewe tweeling boeties sal jy nêrens kry nie!

Ons het vir twee van die drie dae, die perfekte weer gehad om Roadtrip te skiet, maar toe dit die een middag begin reën, het ons geweet dis ‘n besturing. Die mooiste reënboog waaronder die ment-groen Volkswagen bussie kon deurgly en ‘n rede om twee van die musikante onder ‘n kleurvolle strandsambreel op te laai.
Met die skiet van die “vertoning” deel van die video, op Grotto-strand in Hermanus, moes ons ‘n kragopwekker agter die rotse staanmaak. Dié het ons sommer gratis en verniet by die gawe eienaar van een van die dorp se hardeware winkels geleen vir die aand. Op ‘n stadium gedurende die vertoning het die liggies so effens geknip-knip en ewe skielik was dit donker en die klanksisteem stil. Maak nie saak hoe ons daai ding geruk en gepluk het nie – Geni was dood. Te midde van die gestoei met Geni, het een van ons vriende vanuit die gehoor nader gestap gekom om te vra wat fout is. Ons het verduidelik en sonder om te dink het hy sy hand op die kragopwekker gesit en vir Geni finaal uit die dood opgewek met ‘n kort gebed!

Om Roadtrip se video te kyk is vir ons soos om die hele storie van voor af te beleef. Dit gee ons hoop en nuwe moed om te dink hoeveel vriende, genade en harde werk betrokke was. Ons hoop jy voel dat jy saam met ons op die reise van ons musiek-videos kan gaan. Mag die nuweling, wat binnekort die lig sal sien, jou weereens wegvoer en Roadtrip se skoene vierkantig vol staan.

Gaan kyk gerus ons video Roadtrip op ons Youtube kanaal – Kaleidoskoopband. Hou ook ons sosiale media blaaie dop vir die vrystelling van ons nuwe video Wegbreek.