We LOVE Nam

Posted by admin Category: Category 2

Om soveel mooi dinge van ‘n land te hoor vóór jy daarheen gaan kan nogals ‘n verwagting by jou skep… Ons moet erken, niemand kon ons voorberei op die gasvryheid en vriendelikheid van Namibië en sy mense nie!

Of dit nou Jouba se jarelange wynmakers-vriende, ‘n vêrlangse kennis van Anique se tuisdorp, so naby soos die voormalige lid van Kaleidoskoop (Gerhard Liebenberg) en sy gesin of geheel en al ‘n vêr-af vreemdeling was – die ontvangs was oral ewe hartlik en met dieselfde oorgawe!

Ons moet toegee, die eerste paar ure in Namibië het ons effe frustreerd en bekommerd gehad dat ons laat sou wees vir die eerste vertoning van die toer. Sien, die grenspos is nie altyd jou vriend nie, maar as jy vriende het met vriende op die grenspos is dit ‘n ander storie. Nee, laasgenoemde klink soos ‘n omkopery en verneukspul, maar as iemand of iemand se vriend bloot net wéét hoe dinge op die grens werk en hulle die taal kan praat, verander suur gesigte meteens in ‘n glimlag en alles wat wou skuur en skaaf loop skielik seepglad.

Soos ons langs die Oranje-rivier ry sê ons vir mekaar: “…daai kant is SA en dié kant is Nam… ongelooflik!” en dít was net die begin van alles. Nooit sou ons kon dink dat ons – saam met een van ons gasvrouens – die vorreg sou hê om by N/a’an ku sê Wildlife Sanctuary tyd saam met drie jagluiperde en ‘n hele trop bobbejane te spandeer nie! (Goed, darem nou nie terselfde tyd nie, anders was apie op ‘n stokkie dalk kat-kos… of wag, hulle sê ‘n luisperd is deel van die hond-familie?) Om nie eers te praat van al die diertjies wat Marlice van Vuuren (van Groen: Namibië faam) gered of gerehabiliteer het nie… muishonde, dassies, ‘n koedoe-koei, ‘n vlakvark (wat kou aan als wat blink), meerkatjies en selfs ‘n mak jakkals met die naam Wolfie! Die sukses van dié plek is duidelik te danke aan Marlice se passie vir elke dier en haar harde werk!

Láter op ons Namibië-avontuur het ons die voorreg gehad om op wilds-ritte te gaan, naby kennis te maak met ‘n rob en pelikaan, Walvisbaai se duine te ry en ook die roete van ‘n stokvis – van boot tot stokstyf in die boks – mee te maak by Sea Work se fabriek. Bogenoemde plus museums, akwariums, spook-dorpe onder sand, donderweer-dekor vir ons buitelug vertoning, baie vleis, droëwors, biltong en dié lekkerste kalamarie wat ons in ons lewens al geproe het!

Dis ‘n toer-vol en ‘n mondvol, maar dit alles saam kom nog nie naby die Namibiese mense nie. Oop huise, oper hande en die oopste harte! En die lekkerste van alles was om te kan sê: “…dit voel soos huis!”