Gunsteling Groot Trek

Posted by admin Category: Category 2

Om terug te dink ná ses jaar in Ptretoria bring allerhande emosies by ons op. Ons dink aan hoe ons in 2012 van die mooie Stellenbosch af getrek het sonder om te weet wat om te verwag van hierdie “gevaarlike plek” waar jy nooit met ‘n oop ruit mag ry, sonder pepper-spray mag gaan stap of by ‘n verkeerslig stop as dit donker is nie. Ons is aangesê om ons kar-deure, huis-hekke en kamer-vensters te sluit… sommer deur die dag ook.

Dit is nie duidelik wat verkeerd gegaan het nie, maar ná ses jaar ry ons met oop ruite en stop by die verkeerslig – nogals in Arkadia – om vir Lebo op pad gym toe te groet en staan ons kamer-vensters tot laat in die nag oop om die eg Gautengse somer-reën en donderweer te kan hoor. Ons sluit darem wel ons karre vir die klank-toerusting se onthalwe.

Ons het nou vir ses jaar Pretoria ons huis genoem, maar ons moet sê – in ons harte was ons nog altyd Kapenaars – en boonop sukkel ek (Anique) om daai plat aksent te verloor. Dit klink vreeslik cliché, maar ons huis is waar ons harte is – en dit is waar ons ouers en res van die familie ook is. Ons het besef dat dit net makliker sal wees om op ‘n Sondag-middag gou 40km te ry as om ‘n retoer vlieg-kaartjie te boek, net om ons neuse in die ouers se kos-potte te kan druk of iemand se verjaardag by te woon.

Ons gaan darem nie weg met leë harte nie en wat ons wel van Pretoria gaan mis is al die gasvrye mense wat ons vriende geword het, die klomp talentvolle musikante en die feit dat ‘n verkeerslig vir ewig oranje bly.

Ons sal jok as ons sê dit was nie ‘n lekker seisoen van ses jaar nie. Ons sal jok as ons sê dit was nie goed vir ons reis as opkomende musikante en dat ons baie geleer het nie. Ons sal jok as ons sê ons gaan nie die mense hier mis nie…. ons sal ook jok as ons sê ons gaan nooit weer hier verby toer en slaapplek soek by die ou vriende nie.

Alles draai eintlik maar net anders om… Nou gaan die Kapenaars sê: “Julle kan net so wel in Pretoria woon.” en my nuwe huis-maat sal seker ook nou en dan boodskap om te vra of ons nog lewe.

Ons sluit hierdie week (Sondag om presies te wees) een van ons Gunsteling Seisoene af, net om die volgende een as Kapenaars te begin.

Dankie Pretoria met jou mooi mense, Jakaranda-bome en somer-donderstorms. Jy was vir ons goed. Sien jou op ons volgende toer na die Noorde!

 

Voor ons in Januarie bietjie gaan rus, speel ons Desember kus-langs op ‘n paar plekkies:

 19 PE

20 St. Francis baai

21 J-bay

22 George

26 en 27 Stilbaai

28 en 29 Grootbrak

30 Hermanus

 

Meer info en kaartjies by “OPTREDES” in MENU hier bo.