Zoid-Afrika se ministers van “epic fail”

Posted by admin Category: Category 2

Ons is nie regtig ‘n band vir feeste nie. Ons hou van die gevóél van feeste… die ontspanne opgeruimdheid onder almal – wat maak dat jy met daai wildvreemde oom kan spot oor die té klein t-hemp wat sy kind vir hom gekoop het, die kos-stalletjies met cones vol pizza, vetkoeke vol steaks en Tropica-slushpuppies, die musiek, die kunste, kinders met geverfde gesigte, die lawwe hoede, fake tattoos… die hele vibe.

Maar óns is nie regtig ‘n band vir feeste se oop verhoë nie… alhoewel ons die platform waardeer is dit uitmergelend om drie en ‘n half kitare, ‘n 17kg klawerbord, ‘n trop perkussie instrumente, skopdrom en kas vol albums vir 2km te dra tot by die verhoog, wat ‘n uur se klanktoets behoort te wees in tien minute te doen, te speel vir twintig minute nét sodat iemand van die kroeg af kan skree: “Sing Kaptein! “Moet ons nie verkeerd verstaan nie – die feeste het ons al verras en goed behandel – ons onthou spesifiek ‘n paar jaar terug by Innibos wat juis nou in Nelspruit aan die gang is.

Ons dink dit was 2015. Ons het ses vertonings by die verskeie oop verhoë gedoen, onder andere by die Leeukuil – waar al die fees se kunstenaars hul middag- en aandetes kon eet en ook ontspan by ‘n kroeg. Ons het effe uit plek gevoel met die hele lot 7e Laan akteurs en baie beroemde sangers, maar ons klanktoets was gelukkig vinnig en effektief. Teen die tyd dat ons moes begin speel was dit al donker. Die liedjies op ons setlist was spesifiek gekies om die feestelike atmosfeer te dien… Moedersmelk, Stellenboschkind, Bangjan Dooieman, die goed wat skopdrom in het, sien? Onder hierdie skopdrom-gedrewes was dan ook ‘n engelse cover wat ons graag doen – Billie Jean van Michael Jackson. Ons gehoor was teen dié tyd almal buite op die Leeukuil se stoep wat uitkyk oor die hoof-verhoog op die rugbyveld. Die helfde omdat hulle opgewonde was oor Steve wat binnekort sou optree, die ander helfde omdat hulle darem een van die liedjies wat ons sing herken het. Ons het Billie Jean daardie tyd al heelwat kere opgetree, baie gemaklik en lekker om te sien die mense geniet dit. Nooit sou ons kon raai wat ons dáárdie aand te beurt sou val nie.

Ons sien ‘n geritsel in die skare en iemand wat verhoog se kant toe beweeg. Seker iemand wat van die liedjie hou en wil kom dans… Gou het ons effe bekommerd gevoel, want hierdie iemand was besig om op die verhoog te klim en ewe selfversekerd haarself langs my op die klavierstoel tuis te maak. Ons kon nie lekker sien nie, maar toe trek sy my mikrofoon voor haar mond in en skielik is dit heel duidelik dat dit die legendariese Karen Zoid is wat pas saam met ons op die verhoog geklim het!

Sy sing die chorus waarmee ons besig was klaar – met ligjare meer rock in haar stem as wat ek ooit sou kon. In die tussenspel draai sy haar kop na my toe en met haar vraag sak my moed in my skoene en stoot my hart in my keel op, “In watse key is julle?” terwyl sy beduie dat ek iets moet speel. My klawerbord is getranspose vir die vorige lied en Jouba se kitaar se capo is mos maar net waar hy hoort, so nie een van ons weet regtig in watter toonsoort ons is nie. My musiek-teorie juffrou se gesig verskyn vlugtig voor my, maar heelaas moes ek skamerig in die rocker se gesig skree, “…ek weet nie!”

Hoe vernederend en hóé spyt was ek om nie Billie Jean te kon saam jam met die president van rock nie, gelukkig was dit te donker om te bloos. Toe ons weer sien was die helfde van haar band óók op die verhoog en doen hulle ‘n soomlose mashup van Justin Timberlake se SexyBack en Billie Jean terwyl ek handjies gevou sit met ‘n paw-paw smile op my gesig. Trots dat Jouba ten minste darem nog kon saamspeel en sing.
Ons wil net graag sê: Karen, ons doen Billie Jean in f# minor. Klim asb enige dag weer saam met ons op die verhoog!

Al waaroor ons nou wonder is: het Steve geweet in watter key hy Die Stem gesing het daai aand?