Die stroomop en wind-af van ‘n beskeie begin

Posted by admin Category: Category 1

In Engels noem hulle dit ‘humble beginnings’ en hulle sê ook dat mens dit nie moet ‘despise’ nie. As ons terug dink aan die begin van Kaleidoskoop se reis, is daar sekerlik ‘n paar dinge wat ons moonlik kon ‘despise’.

Ons kan vertel van ‘n musiekgroep wat gratis by koshuise se huisvergaderings en vriende se troues gesing het vir blootstelling en ‘n lekker bord kos! Ons kan vertel hoe Jouba dikwels oor die muurtjie van ‘n belowende tuin en oor vele plaasheinings moes spring vir ‘n takkie ivy, jasmyn en emmers vol varkblomme om die verhoog te versier voor vertonings. Ander kere rondjaag vir die regte klanktoerusting omdat die ‘speakers’ wat voorsien sou word vir die vertoning, uitgedraai het om dié van ‘n skootrekenaar te wees.

Daar was ‘n paar oomblikke waar ons ook ietwat onwelkom gevoel het… Ons onthou die dag wat ons weggejaag is by Worcester se mall. Met ons ewe hoopvolle, oop en ontvanklike kitaarkis het ons op ‘n bankie in die gang gesit en ons harte uitgesing/-speel. Dit was nie vyf minute nie toe was die sekuriteits-wag daar… en hy wou vir seker nie saam sing nie. Wel, toe skuif ons maar na die volgende beste plek – búíte die ingang agter die pilaar waar hy ons nie kon sien nie. ‘n Skamele, maar broodnodige, sestig rand is daardie dag ingesamel vir die Mazda 323 se petrol-geldjie wat ons op ons eerste toer sou neem.

Dan was daar die keer toe ons met Stilbaai se dominee gereel het om ná ‘n vertoning in die kerkkantoor te slaap. Baie opgewonde en verlig dat daar vir ons en agt ander saamtoer-vriende se lywe ‘n sagte rusplekkie sou wees. Die skriba-tannie was egter nie te vinde vir dié onheilige idee nie, en het ons summier uit gejaag. Minder aangenaam, maar te danke aan die liewe stranddiens-span kon ons toe tente (sonder matrasse of kussings) op die laaste stukkie oop gras in die karavaanpark opslaan… net om later, dankbaar dog met spyt te besef dis nie op ‘n staanplek nie, maar op die stukkie gras voor die ablusieblok. Nodeloos om te sê – wind-af is goed vir jag, maar nie vir kamp nie!

Ons kan hierdie en vele ander gebeure baie dramaties opnoem en kies om ‘n hartseer storie te vertel van twee sukkelende, brandarm musikante, dommerig en sonder kontakte in die industrie.

Gelukkig vertel ons nie ‘hartseer’ stories nie en ‘despise’ ons nie één van hulle nie. Ons kies graag om hierdie hoop-stories deur ‘n kleurvolle Kaleidoskoop te bekyk, en te sien dat ons baie geleer het van die lewe, liefde en menswees… nederig en dankbaar dat ons nie meer witgoud by die gym hoef te ‘leen’ nie.

Leave a Reply