Die tien ton tannie

Posted by admin Category: Category 1

Troues. Ons het al ‘n paar dinge geleer by troues. Die geswoeg en gesweet van ‘n bruid en haar ma (en soms skoonma wat inmeng) om vir sussie net die mooiste, perfekte dag aanmekaar te slaan, soos elke bruid verdien.

Honderde beplannings e-posse met vreemde versoeke soos om met ons instrumente tussen die gaste rond te loop en sing – wat ‘n heel moeilike en onbegonne taak is vir iemand wat hoofsaaklik klavier speel. ‘n Paar desperate oproepe deur die bruidegom, opsoek na ‘n DJ, sodra die paartjie met ‘n skok uitvind dat ons NIE dáárdie rol ook vervul nie. ‘n Vergadering of twee later en Kaleidoskoop daag op vir duty. Alles haarfyn beplan, maar gewoonlik weet niemand op die troudag waar ons moet opstel nie, dan kies ons maar vir ons ‘n plekkie waar die son ons nié teen vier-uur die middag op die voorkop gaan timmer nie. Sien, die aarde draai mos.

Nou, net soos die aarde, is daar iets wat hulle noem ‘die wiel’ wat draai. Hierdie ‘wiel’ het my by een spesifieke troue vir seker bietjie raak gery.

Dit is ‘n lieflike, sonnige dag in die Oos-Vrystaat. ‘n Ongewone Woensdag vir ‘n troue, maar almal is uitgevat in hul beste Sondag-klere. Veral een besondere groot en lang vrou met ‘n sonbril op haar gesig, ‘n diep stem en kort, bloedrooi hare wat pen-orent op haar kop staan. Kaleidoskoop is reeds onder die boom opgestel vir die canapes, maar eers moet ons in die kerk sing en later by die onthaal terwyl die gaste aan hul kos smul. Die diens verloop seepglad sonder enige hitte-floutes of onderbrekings. Die paartjie teken die register en dis tyd om die konfettie te strooi.

Met dié dat ek my handjie-vol gedroogte blom-blare skep, stamp iemand my so effens van agter af uit die pad en trap vol-voet met ‘n breë-hak skoen bo-op my handsak waarin my nuwe kamera is! Die woede borrel in my op. Eerstens omdat ek so kort is – enige mens langer as 1,7 meter kan los bo—oor my kop kyk. Dis hoekom hulle so graag aan my stamp, veral in ‘n skare. Tweedens, vir die ongeskikte groot vrou met die rooi hare wat met haar swaar voet op my handsak trap – en dit net om reg vóór my en Jouba te kom staan vir die konfettie-strooiery. Ek mompel kwaai: “sal die tien-ton nou op my handsak…..” Jouba staan langs my, maar het niks van die insident gewaar nie en vra kliphard, “Tien ton?” My gesig word koud en warm op dieselfde tyd, sy het hom beslis gehoor en sy wéét sy het op iets of iemand getrap! Sy draai vinnig om, kyk vir Jouba en sê verontwaardig: “Dís nie baie mooi nie!”

My hart klop in my keel en ek wil weghardloop so vinnig soos my kort beentjies my kan dra! Daai vrou sal my met een hou kan omklap! Jouba lyk deurmekaar en ek besluit om, vir ons altwee se beswil, ook ‘n vraagteken op my voorkop te plak. Toe sy sien ons lyk onskuldig draai sy weer vorentoe en dit voel of ek wil omval. Jouba lyk steeds verward en ek verduidelik, tot sy groot vermaak wat gebeur het en ons doop haar die ‘tien-ton tannie’ vir die dag.

Ek kan nie vir een oomblik ontspan nie. Ek gaan bêre my handsak in die bakkie sodat sy hom nie kan herken nie. As sy naby is, kruip ek agter Jouba of ‘n boom weg. As sy na my kant toe kyk, kyk ek weg of soek kamma iets onder ‘n tafel. Ek is bang… en spyt dat ek dit wat in my kop moes bly hardop gesê het. Sies, ek was baie lelik. Nou voel ek sleg.

Toe die tyd kom vir die gaste om na die saal te beweeg vir die onthaal, stol my bloed amper in my are. Die ‘tien-ton tannie’ kom reguit op my afgestap. Ek bid in my kop dat sy asseblief tog net op pad badkamer toe moet wees, maar sy draai nie weg nie. Jouba is nie naby nie. Sy kom net nader en nader. Ek fluister-gil saggies en buk om solank te kyk watter kant toe ek moet koes as sy afhaak en my klap. Ek voel haar vinger op my skouer tik. Ek is lam. Ek haat konfrontasie. Sy haal haar sonbril af en glimlag vriendelik. “Hallo, het julle dalk vir my ‘n mikrofoon vir ‘n aankondiging? Julle het sulke mooi musiek gemaak daar buite! Ek hoop ons gaan nóg hoor?”

Sy was die dierbaarste ding. En sy was nie die ‘tien-ton tannie’ nie, sý was die seremoniemeester!

Leave a Reply