In transito

Posted by admin Category: Category 1

Sakpak, inpak, uitpak, afpak, herhaal. Om uit ‘n tas te lewe is vir sommige mense een van die mees vreesaanjaende idees ooit. Oor die jare het dit vir ons al tweede natuur geword. Ons is bevoorreg om al ‘n hele paar kilometers op ons getroue Isuzu te kon sit en ons ryg hulle steeds in… nie die Isuzu’s nie, die kilometers. Saam met ‘n getoer kom daar allerhande interessante staaltjies om te vertel – sommige vreemder as ander, maar ons deel graag met julle ‘n paar van dié wat ons bybly.

Gepraat van tasse en koffers. Desember-maande word daar kuslangs getoer. Vir die manne wat saamtoer is daar niks lekkerder as om vinnig in die see te spring voor ‘n vertoning nie, maar hierdie aksie het egter een spesifieke reperkussie. Die nat onderbroek. Geen man het ‘n behoorlike oplossing vir die verpakking van só ‘n klam, muffende delemma nie. Dus word hierdie nat ‘onna’, ‘ontie’ of ‘jeff’ met sy wel verouderde see-bamboes-kaas geurtjie in mekaar se koffers en kitaar kiste versteek. ‘n Luidkeelse noodkreet verklap altyd wanneer die onaangename ONTdekking gemaak word en hierdie skattejag duur dan voort vir die res van die toer. Die laaste rusplek van die skat is gewoonlik waar hy vasgeknyp sit tussen die sonskerm en dak van my voertuig – net voor ek in die pad val ná die toer. Sodra die pad in die regte rigting draai is ék dan die gelukkige wenner van hierdie stokstywe, sout bokkom op my skoot.

In die binneland, waar die see ‘n bietjie vêr is, sal ‘n bejaarde aartappel onder die kar-sitplek ook die ding doen. Geen verrassings-aartappel is egter volmaak sonder ‘n koukie-pen gesiggie en uitloopsels vir hare nie!

As jy padlangs wil toer moet jy ongelukkig vrede maak met die feit dat daar nou en dan vir jou ‘n lieflike ‘loveletter’ met ‘n foto van jou voertuig in die pos sal kom. Jou eerste ervaring met ‘n spietkop is ook gewoonlik een wat gewig dra. Amper dieselfde as die eerste keer wat die sekretaresse by die skool jou naam oor die interkom roep om na die hoof se kantoor te gaan. Of die eerste keer wat jy die tandarts besoek. Mý eerste ontmoeting met ‘n spietkop was op ‘n effens ongeleë tyd – toevallig die eerste keer dat ek alleen my bakkie van die Kaap na Pretoria moes bestuur. Ek kon nie mooi verstaan hoekom die bloubaadjie so vriendelik lyk toe hy my aftrek nie, want daar was geen glimlag op mý bakkies te siene nie. Daar was wel ‘n paar trane wat my oë wou oorstroom. Ek het my ruit nog nooit so stadig afgedraai soos daardie dag nie. ”Môre mevrou hoe gaan dit met mevrou?” sê die klein, hoppende kleurling man sonder voortande in sy beste Afrikaans. My brein kon beslis nie my antwoord vinnig genoeg saamstel nie, want my antwoord was: “Goed dankie en met mevrou?” Dit kom nou van liedjies sing oor ouens wat per ongeluk hul skoonpa ‘tannie’ noem.

Jip, ‘n spietkop is ‘n ander ding. Ons het gevind hulle is partykeer baie slim en ander kere baie naïef. Dié dat ons dit al reggekry het om Jason (ons sessie-musikant) se bestuurs-lisensie te wys en salig weg te ry sonder enige probleme… al het Jouba bestuur.

Alternatief tot padlangs is wolklangs. Wat stiptelikheid van vlugte betref,was die geluk nog redelik aan ons kant. Tot eendag. ‘n Hele driekwartuur op Lanseria is moeilik om verby te kry…. behalwe as jou naam Jouba is. Binne minute beleef ek hoe ‘n kitaarspeler in ‘n sirkus-akrobaat verander wat ‘n Mango-rolstoel op en af in die gang kan ‘wheelie’. Hierdie toertjie het eers (letterlik) sy gat gesien toe ek omkyk en net 2 bene in die lug sien swaai, vas aan ‘n lyf wat op sy rug lê en sukkel om regop te kom.

Om te toer deur ons mooi land is voorwaar ‘n voorreg, maar soms mis ons die huis, ‘n klerekas en ons eie kussings. Dan lééf ons vir daardie goue oomblikke waar iemand ons onverwags baie tuis laat voel, soos die keer toe ‘n skoonmaker in die lughawe se badkamer baie selfversekerd vir Jouba gesê het: “Welcome to my office sir, have a seat!”

Leave a Reply