Karate, Eskom en old Deuteronomy

Posted by admin Category: Category 1

Kaleidoskoop se wintertoer lê om die draai en ook baie naby aan ons harte. Nie net omdat ons gewoonlik die kans kry om deur die prentjie-mooi Oos-Kaap te ry nie, maar ook omdat baie van ons gunsteling mense gestrooi lê langs dié roete.

Ons gaan vir seker moeilikheid optel as ons begin name noem en mense uitlos, maar daar is ‘n sekere paartjie wat ons maar beslis kan uitlig en besing. ’n Paartjie in wie se huis ons gereeld oorbly en in wie se tuin en sitkamer ons gereeld vertonings hou. Hierdie paartjie is niemand anders as Cobus en Ruzelda van Dyk in Oos-Londen nie. Ruzelda is Jouba se jonger sussie, getroud met Cobus en saam het hulle een-en-‘n-halwe spruit. ‘n Lieflike dogtertjie – wat nes haar mamma lyk – en ‘n klein verrassing op pad. Die van Dyks is baie musikaal en is vinnig te siene in ons musiekvideo Roadtrip. Een van die cover-liedjies op ons nuwe album is ook deur húlle weergawe van die lied geïnspireer. Kaleidoskoop het al vele herhinneringe gemaak in Oos-Londen – veral op ons wintertoere.

Ons het die lekkerste musiek-winkel daar ontdek en het al etlike ure daar spandeer tussen die instrumente (gewoonlik dié wat ons nié kan speel nie). Ons het ook die legendariese bergie met sy lae en lae klere, duvet om sy skouers en tak-hare leer ken. As jy die musiek-blyspel Cats ken, sal dit baie sin maak hoekom Cobus en Ruzelda elke keer as ons verby hom ry sing: “I believe it is old Deuteronomy!”

In 2015 is ons op die aand van ons vertoningin sonder krag gelaat te danke aan liewe Eskom se goeie beplanning. Gelukkig is ivy-versierde kersblakers glo standaard in ‘n skool se pakkamer. Dus was ons Oos-Londen gehoor die gelukkige wenners van ‘n werklik-akoestiese-kerslig-en-piekniek-onder-ons-neuse-vertoning.

By ‘n ander geleentheid het die van Dyks vir ons ‘n optrede vir agtergrond-musiek by ‘n restaurant in die dorp gereel. Na omtrent 2 ure se spelery kom vra ‘n klein blondekop-dogtertjie vir Anique of haar “geluid” nie al seer gesing is nie.J

Dit is duidelik dat daar vele interessante staaltjies is om van dié dorp te vertel, maar niks kom egter by ons gunsteling storie van Oos-Londen nie…

Ons was besig om The Story van Brandi Carlile te sing by ‘n vertoning in die skoolsaal. ‘n Baie teer en intieme klavier-ballade met lang stil pouses tussen die frases wat gesing word. Daardie aand was die pouses egter nie so stil soos gewoonlik nie, want kort, aggressiewe gille het onder die verhoog uitgeborrel. “All of these lines across my face”….. ”JAAA!!”……”tell you the story of who I am”…….”HOOO!!”

Ons het na afloop van die vertoning besluit om volgende keer seker te maak die skool se “ondergrondse” Karate-klasse is klaar vóór ons begin met ons vertoning!

Leave a Reply