Gogga maak vir baba bang

Posted by admin Category: Category 1

“Hoe sal die akoestiek hier wees? Waar is die naaste kragpunt ? Is die klanksisteem groot genoeg? Hoe lyk die weervoorspelling?” Dis die vrae wat deur ‘n kunstenaar se kop swem voor ‘n buitelug-vertoning. Die laaste ding waaraan enige musikant dink voor ‘n buitelug-vertoning is ‘n gogga. Tog vind hierdie gediertetjies dikwels ‘n manier om die show te steel!

Dis eintlik logies. Goggas hou van die buitelug. Goggas hou ook van lig in die buitelug. Wát ‘n perfekte gogga-attraksie – Kaleidoskoop met stringe en stringe liggies ….in die buitelug!

‘n Hele ruk terug is ons genooi om by ‘n eerstejaarskamp naby Rustenburg te speel. Al die deure van die saaltjie was oop, want dit was warm. Dit was warm, want dit was Februarie. Dit was warm, want ons moes klanktoerusting heen en weer dra. Dit was warm want massas 40-Watt liggies het bokant ons koppe gehang en gloei. Dit was warm, want 250 opgewonde eerstejaars het met warm asems in die warm saaltjie gesit en luister hoe ons sing.

In die middel van een van ons love-songs het ek gevoel hoe ‘n druppel sweet uit my hare tot op my voorkop vloei. Altwee my hande was vasgevang op die klavier en ek het besluit om die profesionele ding te doen deur nie aan my gesig te vryf in die middel van ‘n lied nie. Ek sou deur druk tot die einde.

Voor my in die gehoor het ‘n ou en meisie begin giggel. “Vreeslik ombeskof….” het ek gedink terwyl ek deur die akkoorde beur…. “ek sit en sweet hier vir júlle vermaak!” Die sweet-druppel het verder gesak. “Wat gaan ek doen as dit deur my wenkbrou tot in my oog loop? Dit sal mos brand! En hoe lyk ek dan met een toe oog? Netnou dink iemand ek flirt met ‘n eerstejaartjie!” My kop was op hol. Die kinders het gegiggel. Ek kon nie meer lekker konsentreer nie en ewe skielik het iets my verdeelde aandag getrek – die sweet-druppel loop nou horisontaal oor my voorkop. Links, regs op en af, heen en weer…. dit kon nie reg wees nie.

Ek het die giggelende eerstejaars vergewe en toe maar skamerig die kolossale mot van my voorkop af gewaai en verder gesing.

Leave a Reply