Polôks se rysmiere

Posted by admin Category: Category 1

Hulle sê nét ‘n donkie stamp sy kop twee keer teen dieselfde klip… en ook, as jy nie wil hoor nie, moet jy voel. As dit die waarheid is sal ons kwalifiseer as: die donkies wat moes voel… en proe!

Teen hierdie tyd behoort ons mos nou te weet dat ons dekor-liggies insekte lok. Veral in die buitelug. Miskien het ons gedink as ‘n vertoning op die tweede verdieping, onder ‘n afdak geskied, sal dit nie tel as ‘n buitelug vertoning nie. Wel, op verlede jaar se Desember-toer in Grootbrak was daar ‘n lieflike, kriewelrige verrassing wat nie met híérdie stelling saamgestem het nie. Perfek in een van die gaatjies van Jouba se mondfluitjie het ‘n “by of ‘n wol-wurm of iets!!” homself tuisgemaak. Natuurlik nie eers daaraan gedink om te kyk of dit die blaas-en-suig kant van die instrument is nie! Met die eerste suig-slag kom ons maat met volle wollerige vaart te lande in Jouba se mond en toe in sy keel! ‘n Goeie hoes-en-proes sessie kon darem ontslae raak van die klein pes en ook vir ‘n bietjie ekstra aksie in die vertoning sorg.

As hoes-en-proes maar net genoeg was vir daai aand in Polokwane – of Polôks soos ons goeie vriend sy tuisdorp noem. Dit was die eerste keer dat ons in dié dorp optree.- in die tuin van ‘n welbekende egpaar in dié geweste (wat ook ons ván deel). Boetie en sussie, ma en pa – almal het gehelp om die tuin reg te kry vir die piekniek-in-die-tuin show. Liggies en Chinese lanterns in die bome, kersies in bruin papiersakke op die grond, de lot. Die atmosfeer was ongelooflik en alles perfek voorberei om al die aandag te trek na die hoek waar ons opgestel was. Soos mens sou kon raai was aandag nie al wat na daai hoek toe getrek was nie. Die hele Polokwane se rysmier-bevolking het soos een man op ons toegesak.Hulle was oral. In ons hare, in ons klere, op ons gesigte, binne-in Jouba se hemp en tot onder Anique se rok. Dit was net rysmier-vlerkies waar jy kyk! ‘n Paar van die dronk, vlieënde gevaartes was glad in ons ore en monde! By tye kon mens selfs hoor hoe hulle herhaaldelik in die mikrofone vasvlieg.

Daar is s‘n tyd en plek vir professionaliteit, maar toe die nood druk het ons besluit mens mag maar Doom onder jou arms en oor jou lyf spuit soos deoderant.

Leave a Reply