Ongenooide gaste

Posted by admin Category: Category 1

Soos met enige stereotipe is dit ook waar dat álle insekte nie aangetrokke is tot lig nie. Party van hulle verkies om in die donker gaatjies van die tuin of selfs in die verlate hoekies van jou kamer weg te kruip.

Die ding is net, as dit jou eie kamer is kan jy seker maak daardie pes-draende hoekies word gereeld skoongemaak. Op toer is bogenoemde egter nie altyd moontlik nie en eindig jy soms op in ‘n kamer wat nie joune is nie…en wat jy – of soms niemand anders – skoonmaak nie. Byvoorbeeld ’n kamer in ‘n weeshuis in Port Elizabeth.

Stokflou stap ons een aand daar in na die vertoning. Dankbaar vir slaapplek, maar vreesbevange vir wat in daardie matrasse skuil. Jy ken mos daardie gevoel van iets wat jou dophou, maar jy weet nie wie, wat of waar nie. Ons het geslaap soos klippe en die volgende oggend in die stort eers uitgevind dat aandete ingesluit was….. wel, nie vir ons nie, maar vir die klomp weeluise in ons beddens!!

Uit te ken aan die jeukende rooi kolle in die voue van ons lywe, is hulle van daai soort wat van die duistere plekke hou…

Dit herhinner weer aan een aand in Stilbaai. Oudergewoonte – liggies, vlaggies die hele toetie, maar daardie aand geen insekte nie. Vir ‘n slag kon hulle hulself beteul…wel, tot op die laaste encore-lied.

Ek het reeds die inleiding begin speel toe ek sien Jouba klap iets rondom sy nek. Hy het net ‘n rukkie stilgesit, toe spring hy op, ruk sy ingesteekte hemp uit sy broek en skud verwoed. Hy gaan sit weer doodrustig en wag om sy kitaar op die regte plek te begin speel, maar ek weet ek het niks by sy hemp sien uitval nie. Iewers skuil daar ‘n ses-poot tydbom. Ek begin weer die inleiding van voor af en my oog vang Jouba se hand wat van buite af iets in sy broekspyp vang. Ek sien hoe probeer hy hom dooddruk teen sy knie, net om drie sekondes later die ding weer – die keer n bietjie hoër teen sy been op – te stop! Nét voor ek begin sing hoor ek Jouba val heeltemal te vroeg in. Nie eers met sy kitaar soos hy moet nie, sommer met sy stem: “nee, skuus julle, ek moet nou eers die ding gaan uitgooi” en hy hardloop tot die gehoor se vermaak agter ‘n bos in , trek sy broek uit en laat die stomme koring-kriek vry!

Leave a Reply