As die piesang seil

Posted by admin Category: Category 1

Ons het ‘n rukkie terug vertel van Oos-Londen en sy mense, boemelaars en karate-klasse. Ons het ook vertel van die van Dyks by wie ons so graag gaan kuier, maar ons het niks vertel van die ánder spesie wat ook redelik gereeld hul opwagting maak by die Van Dyk-huis nie. Blou-ouma, Blou-ma en –pa, Blou-boet en –sussie en elke Blou nefie en niggie, oom en antie wat lus is vir amok maak!

Jip jy raai reg…. die Blou-aap familie!

Die Blou-aap familie is nou nie juis jou gewone kuiergaste nie. Soos ‘n gewone gas by die voordeur sal instap, sal dié gesin verkies om eers in die boom by die balkon te klim, dan op die dak rond te hardloop en daarna miskien hul flambojante entrance deur die kombuis-venster te maak. Ongenooid, onaangekondig, honger en barbaars.

Vir die wat ‘n blou-apie ken is dit ou nuus dat jy jou deure en vensters maar moet toe hou. Veral as jy nie al jou eiers stukkend op die grond wil sien of jou avokadopere teen die muur gesmeer wil hê nie.

In die van Dyk-huishouding is Cobus die jagter… sy kettie en ghoens lê altyd gereed op die tafel vir ingeval die Bloues kom kuier. Ongelukkig is ‘n Bloue glo nét so duskant ‘n mens en maak hulle al reeds die assosiasie van pyn en lyding met daai kettie. Dus, wanneer Cobus sy kettie-wapen optel sien jy net Bloues, blougat-oor-kop, van die balkon af spat!

Een oggend kry Cobus wel ‘n plan wat sal sorg dat ‘n Bloue welverdiend sy blou alie sal sien… ‘n lokval. ‘n Heerlike ryp, goudgeel piesang buite op die balkon-vloer, reg voor die glasdeur. En vas aan die piesang, ‘n tou wat tot in die huis loop. Die ander punt in Cobus se hand. Die idee is om die Bloue tot in die huis te lok en hom dán met die kettie by te kom… op kort afstand vir maksimale effek.

Cobus wag om die hoek, kettie in die een hand, tou in die ander. Vanoggend gaan ‘n Bloue betaal vir sy familie se sondes! Dis doodstil, maar skielik hoor Cobus iets op die dak… dan in die boom en ewe netjies kom sit Oompie-Blou rustig op die balkon-rand. Hy krap ‘n bietjie hier, byt ‘n bietjie daar, maar sy oë kom tot stilstand by die lekkerny voor hom op die balkon. Hy kan homself nie keer nie. Sy mond water. Versigtig klim hy af, suutjies sodat die groot jagter – met sy mik-stok wat so brand – hom nie moet hoor nie. Sywaarts skuifel hy nader aan sy beloning. Hy kyk weer rond, want gewoonlik, teen hierdie tyd, het die eerste ghoen al getref. Cobus kan sien Oompie-Blou vertrou nie die vrede nie, maar hy is tog so lus vir daai piesang! Hy steek sy hand uit om die piesang te vat, Cobus trek die tou en die piesang beweeg nader aan die deur. Oompie-Blou is baie verward. Sy mik en oordeel was nog nooit só vrot nie! Hy probeer weer en die piesang beweeg weer onder sy hand uit, dié keer vinniger en verder. Oompie-Blou skrik so groot dat hy met een sprong verby die boom onder op die grond land en verwilderd weghardloop.

‘n Ruk later, toe Cobus hierdie staaltjie aan ons vertel, sit Jouba met ‘n groot agterdogtige frons en sê in Oompie-Blou se verdediging: “Jis, ek sou ook weghardloop as die piesangs begin seil!

Leave a Reply