Location, location, location

Posted by admin Category: Category 1

Geen mens weet hoe ons onsself soms in hierdie situasies kry nie, maar wonder bo wonder bevind Kaleidoskoop hulself gereeld in ‘n penarie wat die lokaal of teater vir die vertoning aanbetref.

In Secunda gaan speel ons graag. Veral net na bonus-maand gekom het vir die mense van SASOL – of SASKO soos Jouba per ongeluk een aand petrol-makers met brood-bakkers verwar het. In Secunda is daar ‘n lieflike teater wat so 130 mense kan vat. ‘n Bietjie duur, maar die geld werd as hy stampvol is. Daarom doen ons altyd ons bes om hom soos ‘n sardientjieblik te vul. Een manier om dit te bewerkstellig is om by die skool te adverteer in pouse-tyd. Nie ons gunsteling ding om te doen nie, maar nouja. Toe die pouseklok lui was die kinders in die saal en so een of twee onderwysers het ook ‘n draai gemaak om te kyk “wie raas so”… Met dié kom daar ‘n joernalis – wat toevallig by die skool was vir ‘n sport-foto – aan en sê sy is: “so jammer om te hoor vanaand se vertoning is afgestel…” Ek kon die verwarring van die dubbel-bespreking op Jouba se gesig sien oorgaan na teleurstelling en toe na woede soos hy met die vrou van die teater praat. Hy loop heen en weer en sy arms swaai woes soos hy beduie. Ek dink dis goed dat nie ek of die skoolkinders kon lip-lees nie, maar op die ou end kon ons toe in die teater se buite area speel, die klank gratis kry en daar was vêr meer as 130 mense!

Ons verstaan die admin-personeel van ‘n venue is ook net mense, maar as hulle ons darem ‘n paar uur voor ‘n show uit die enigste lokaal op ‘n klein kus-dorpie gooi om plek te maak vir ‘n produksie met die naam “Anale vir ‘n windgat”, weet ons nie so mooi nie! All is well that ends well, want daar kon ons sommer by ‘n erf aanklop wat gelyk het of mens ‘n vertoning daar kan hou en siedaar – ons is geholpe! Die moeilikheid was net om met al ons son-verskroeide saamtoer-vriende, kitare en trekklavier tussen al Vleesbaai se huise rond te loop en sing en te verkondig dat jy nou jou eie stoel moet saambring, want die vertoning sal nou onder ‘n hout strandhuis geskied.

Ja-nee, van ‘n verdagte Chinese restaurant in Bethlehem, die pub-area van Groenkloof se mans koshuis tot ‘n koeistal in Barkley-wes, ons was al oral en moes dinge maak werk wat nie wou nie. Van een ding kan ons wel getuig – ons het nog nooit ‘n vertoning agv die lokaal af gestel nie. Daar is altyd Iemand wat iets meer interessant, iets met meer atmosfeer, iets beters in gedagte het. Ons moes leer om dit te vertrou en sodra die admin-tannie met slegte nuus bel – kyk ons liewer opgewonde boontoe en vra: “so waarheen nou?”

Leave a Reply