Dekade

Posted by admin Category: Category 1

Verlede week 10 Oktober, 10 jaar gelede het Kaleidoskoop vir die eerste keer ‘n vertoning gehou… in Dorpstraat teater, Stellenbosch. Jy kon dit bywoon vir net R30. Drie manne op die verhoog. Drie manne met geen idee dat Kaleidoskoop ‘n dekade later in Stellenbosch sal besig wees met hul 4e album nie. Wel, net ‘n derde van hulle is steeds teenwoordig, maar elkeen het beslis hul bydrae gemaak tot dit wat Kaleidoskoop vandag nog is.

Ek was daai tyd huiwerig om die eerste keer na Kaleidoskoop te gaan luister. My vriende het my heeltyd geboodskap om hierdie “band” te gaan luister en ek was nét nie lus vir Simonsberg se “koshuisband” nie… if i only knew!

Eendag oor lunch-tyd sit ek op kampus in die Neelsie toe my foon lui. Dit was ‘n vreemde nommer en dit het om my geraas, maar ek het steeds geantwoord. “Hallo Anique ekt jou nommer by ‘n vriendin gekry, dis Jouba wat praat…. sjo, waar is jy nou dat dit skielik so stil is?” Ek het nie geweet of ek moet jok of nie, maar kon nie gou genoeg my lieg bemekaar kry nie… “uhm… haha… in die toilette…”
In elkegeval… mens kan seker nie néé sê as die band se stigters-lid jou bel en jou hele sêr-groep persoonlik uitnooi na ‘n vertoning toe nie.

Daardie aand in 2007 is ek skepties (en vol grappies oor die “koshuis-band”) daar by die Ou Konservatorium in… maar in verwondering oor hoe mooi twee mans se stemme saamsmelt én met ‘n CD in die hand is ek daar uit. Volkome oorgehaalde fan van Kaleidoskoop, reg om enigeen wat “nog nie die lig gesien (of gehóór) het nie” te convert.
Ek besef nóú dat daardie “Lig” wat ek wou hê almal moes sien, die Een was waarop jy die Kaleidoskoop moet rig om die kleure te kan sien draai.