Moedersmelk en Macassar

Posted by admin Category: Category 3

“Ek sê djy, my broe….” is iets wat ek nogals mis om te hoor. Daar is niemand wat ons taal, en sy grappies kan verfraai soos ‘n regte man van die Kaapse vlakte nie. Hulle is kleurvol, spitsvondig en kan jou met hul sê-goed terselfdetyd laat huil en lag. Hulle is baie deeglik. As hy iets aan jou moet verkoop, sorg hy dat jy weet “híérie is die varsste snoek in die Kaapse sie in, mêrim”. As hy moet dans, dan lyk dit of hy vier voete het. As hy moet mooi aantrek vir kerk sal jy hom nie sonder ‘n hoed, das én kruisbande sien nie. As hy moet musiek maak of sing, doen hy dit met sy oë toe en kop agteroor. As hy laat is vir ‘n afspraak, is dit ten minste veertig minute. En as hy moet drink….wel, dan doen hy dít ook ordentlik!

Ons het op ons eerste album, Platsak, gebruik gemaak van só ‘n groepie manne. ‘n Vyf-man brass-band vanuit Macassar, naby Somerset Wes, wat Jouba met ‘n geleende Venture moes gaan oplaai. Ná die gewag dat almal uiteindelik moet opdaag, was hulle baie opgewonde en spraaksamig, maar tog gereserveerd, op pad na Stellenbosch, waar die ateljee was. Nog nooit het één van hulle die binnekant van ‘n opname ateljee gesien nie, wat nog te sê van sy trompet, saksefoon of tromboon daar binne gespeel! Ons vervaardiger was die dirigent en Jouba, die een wat moes paai as die manne se asems kort raak en die hande begin “biewe vannie sienewies man!” Die aanmoediger aan die ander kant was hul goeie vriend meneer B. Randy. Meneer Randy het geduldig eers op die kassie staan en wag, tot een van hulle die “sienewies” regtig moes kalmeer, en sommer net daar meneer Randy se kop afgeruk en ‘n diep sluk gevat het.

Dit het daadwerklik die senuwees kalmeer én die selfvertroue ‘n hupstoot gegee, maar van orde en gereserveerdheid was daar geen spoor meer nie. Dit sou in die haak gewees het as die musikaliteit nie ook saam met die dissipline verdwyn het nie. Dus is meneer B. Randy vir eers in kwarentyn geplaas, tot hy as beloning vir die voltooide opname weer vrygelaat is.

‘n Man van die Kaapse vlakte is ‘n baie unieke skepsel. Baie dankbaar, baie opgewonde, baie trots en baie brêggerig. Soos jy op ons album Platsak sal hoor, aan die einde van die laaste snit – Moedersmelk: “Môre vatêl djy vi die mense djy’t gerekôrd by ‘n rekôdieng stoediejou…hulle gat djou nie gloe nie!”