Feestyd verveeldheid

Posted by admin Category: Category 3

Kom ons jok nou nie vir mekaar nie… Daar is ‘n paar dinge waaroor jy sleg of skuldig voel in die feestyd… Sommige dinge gebeur onbepland en ander klokslag elke jaar, so seker soos jy wéét jy gaan een of ander tyd Stille nag in die kerk sing. Maar gelukkig is ons hier om vir jou te sê: “jy is nie alleen nie!”

Met feestyd word ons álmal eintlik maar weer kinders. Ons is almal opgewonde én klein bietjie bang as Vader Krismis aan die deur klop. Ons almal wens vir tjôklits in plaas van sokkies, en ons almal maak of ons tóg verheug is oor die nylon-paar met die takbokke en sneeuvlokkies op. Niemand van ons lees al ons gelukwensings boodskappe of antwoord terug op die honderde whatsapp videos met die sneeu wat val en elfies wat dans nie.

Ons almal koes vir tannie Baby se pap, nat soene, ons is almal moeg vir  oom Gert se “sien, ek was mos in die army-stories”. Dis nie nét jy wat om die draai loer watter speelding in elke krismis-krêkker is nie.  Jy is ook nie die einigste een wat ‘n cherrie van die vark-boud af steel en dan probeer om die pienk vlek, waar hy eens was, te verdoesel met ‘n stuk blaarslaai nie. Jy is vir seker ook nie die enigste een wat wens daar was mínder groente-sosaties  op die tafel en méér geld in die trifle nie.

So, as jy jou belt nie meer op die laaste gaatjie kan dra nie, is ons nou in dieselfde kers-kos-bootjie. As jy jouself nie kan help om oorskiet beestong uit die yskas te steel nie, is ons ewe kleptomanies. As jy skielik moet badkamer toe gaan as die skottelgoed gewas moet word, is ons ewe lui. En as jy jou kers-geskenke gesorteer het volgens watter van hulle jy volgende jaar weer kan toedraai en weggee, is ons ewe skelm.

Wees maar eerlik met jouself. Jy weet nie wát om met jouself te doen van die 27ste tot die 30ste Desember nie. Ons is almal ewe verveeld op daardie dae.

Kaleidoskoop het egter vir jou die oplossing! Indien jy naby Hermanus, Stilbaai of Grootbrak-area vakansie hou, sal ons vir jou ‘n laat kersgeskenk kom gee… waarvoor jy ongelukkig gaan moet betaal. Ons Desember toer skop môre af in Hermanus by die Overstrand ouditorium en oormôre is ons in Stilbaai vir twee aande voor ons verkas na Grootbrak.

Ons jok nie… nét as iemand vra waar is daai laaste stukkie malva-poeding met die brandewyn-sous op.

Leave a Reply