Naweek van ons Gunsteling Seisoen

Posted by admin Category: Category 2

In die afgelope paar maande is daar in die “Kaleidoskoop-kantoor” baie hard gewerk, baie min geslaap, aanhoudend gebid, soms onwillekeurig gevloek, om die hoekie gehuil, gesug van verligting en reëlings getref dat die stof staan…

Dit alles net om ons Gunsteling Seisoen die afgelope naweek in Pretoria vir die eerste keer met die publiek te kon deel. 

Kyk, daar is hordes dinge wat kan skeef loop met die beplanning van ‘n album-vrystelling en sommige dae het dit vir ons gevoel of daar hordes-en-tien dinge reeds skeefgeloop het. Van kragonderbrekings in die oefen-lokaal en verkeerde bladmusiek vir die musikante, tot die besef dat die album moontlik nie gaan gereed wees teen die tyd van die vrystellings-naweek nie… Ons was redelik moedeloos oor al hierdie klippe in die pad tot ons besef het dat elke ding wat die moeite werd is tóg moeite verg. Dit het gemaak dat elke probleem en frustrasie ontaard het in ‘n uitdaging en dat elke oplossing in ‘n oorwinnig verander het. 

Ons kon nie méér tevrede wegstap van ‘n ongelooflike vrystelling vir ons Gunsteling Seisoen nie. Elke musikant, elke vriend wat vir ons ‘n persiese mat geleen het of help albums verkoop het, elke klankman, videograaf, teater-beampte, elkeen by die promosie-maatskappy en sommer net almal wat ons aangemoedig het en vir ons gebid het… baie, baie dankie. Ons sou nie hierdie tyd van April 2016 tot nou gemaak het sonder julle nie en ons tel elke grys of verlore haar as ‘n seëning net oor die feit dat “all is well that ends well”.

Ons weet die mooiste wens is seker dat jou paaie gelyk mag wees, maar ons wens vandag vir jou ‘n ander ding – dat jy mag stoei met dit wat vir jou belangrik is en dat jy sélf die klippe uit die pad sal rol tot jy uiteindelik by die eindstreep staan en diep binne jouself weet – híérdie was die moeite werd!

Ons is trots om te sê dat Gunsteling Seisoen nou, saam met ons vorige albums, te luister en te koop is op ons nuwe webblad www.kaleidomusiek.co.za (digitaal en harde kopieë). Gaan maak gerus ‘n draai vir bogenoemde en vele meer – wat fotos, videos en meer oor Kaleidoskoop insluit.