Dis (amper) heerlike LENTE!

Posted by admin Category: Category 2

Sedert ons laaste blog-inskrywing het daar amper ‘n hele (gunsteling) seisoen en ‘n half verbygegaan! Ons het jou gemis in media-verskynings-April, “launch”-toer-Mei, administrasie-Junie en wintertoer-Julie. Bogenoemde is egter net in ‘n neute-dop… Intussen het ons ook ‘n tweedehandse Toyota bussie uit Botswana en ‘n persiese mat uit Queenswood Cash Converters ryker geraak. Nou kan ons meer as een instrument-tokkelende maat saamtoer én hoef ons nie meer te besluit watter van ons kitare by die huis moet bly agv te min spasie nie.

Gelukkig is daar nog niks op die mat gemors nie en het die bussie nog nie ‘n pap wiel gehad nie. Die mat het wel gekom met ‘n gebleikte vaal kol op die een punt en sodra die bussie afgeskakel word, gee daar ‘n tannie – baie ernstig – een of ander instruksie oor die radio… in Japanees.

Te midde van ons seisoen en ‘n half van stilswye, het ons ook die musiek-video van ons nuwe enkelsnit, Die goeie, geskiet…. maar dit is ‘n blog vir ‘n volgende keer!

Vir nou wil ons jou net bewus maak dat ons die koms van een van ons gunsteling seisoene – LENTE – gaan vier! Die geliefde 12-stuk orkes-van-vriende asook Lewende Woord – Brummeria se ouditorium is in ‘n stap van geloof geboek, want hy sit 3 000 mense! Hierdie sal ons laaste groot vertoning vir die jaar in Pretoria omgewing wees. So, indien jy enigsins jouself in of naby Pretoria bevind op 1 September, word jy vriendelik uitgenooi om te kom kiekies neem van jou “vintage spring” outfit, worsrolle eet en milkshakes drink, jou hare op te dollie en saam fees te vier, want LENTE is dan hier!

Bespreek jou kaartjie hier!