‘n Mond groot genoeg vir ‘n voet

Posted by admin Category: Category 1

Toe iemand ons in 2012 vra of ons wou inskryf vir die Huigenoot Tempo-toekennings het ons, in die eerste plek, geen idee gehad dat mens jou album kon inskryf vir ‘n jaarlikse “kompetisie” nie… en in die tweede plek, was ons te laat – die inskrywings het reeds gesluit.

Maar op een of ander wonderbaarlike manier het ons tóg ingeskryf en was ons besig om die gehore by ons vertonings aan te moedig om vir ons te stem in die kategorie: “Beste Nuweling”. Ook slegs omdat ons nie gedink het ons staan ‘n káns in die kontemporêre-kategorie waarin ons saam met Coenie de Villiers, Karen Zoid, Nianel en Romanz en Jak de Priester genomineer was nie.

Wanneer ‘n mens instap in iets sonder hoop, geloof of verwagting kan jy soms ‘n lekker verrassing kry… soos ‘n voet in jou mond! Ek het nogal ‘n manier om met my voet in my mond op te eindig by toekennings-aande, maak nie saak hoe voorbereid ek gedink het ek is nie.

Die eerste keer was in 2012…
Ek het in my lewe nog nooit so iets gesien nie. Honderde vroue in bal-rokke met vere, aand-rokke met blinkers, ‘n paar weird rokke en sommiges in fancy, ongemaklike broek-pakke. Die meeste mooi rokke wat ék voorheen bymekaar gesien het was by my matriek-afskeid – waar ál 15 dogters in my klas mooi aangetrek het.

Terwyl ek my vergaap het aan een vrou se deurskynende rok en wonder of sy dalk vergeet het om die onder-rok aan te trek, hoor ek hoe ‘n TV-aanbieder vir ‘n ander vrou agter my vra: “…en wie drá jy vanaand?” Ek kyk verbaas om, om te sien of sy dalk ‘n kind op haar heup het… “Anel Botha natuurlik” sê sy, en swaai haar asemrowende rooi rok rond voor die kamera-man wat sukkel om die hele ding vas te vang. Vir ‘n oomblik was ek baie bly niemand het daardie vraag vir my gevra nie. Ek sou waarskynlik net ‘n frons op my voorkop gedra het, maar voor ek nog kon besluit wat my antwoord sóú en moontlik gáán wees, spring daar ‘n baie ywerige aanbieder en ‘n kamera-man voor my in. Sy vra toe die einste vraag waarop my antwoord – tot my én die aanbieder se teleurstelling – niks anders as die waarheid was nie, “uhm, my sang-juffrou van hoërskool se rok met my eie kant-jassie bo-oor”. (ek was mal oor my fancy outfit) Soos die woorde my mond verlaat, besef ek dat my antwoord gelukkig so on-interessant was dat hulle dit nie op TV sou uitsaai nie. Ek het die res van die aand agter Jouba weggekruip sodra dit gelyk het of enigiemand met ‘n mikrofoon nader kom. Jouba het gelukkig altyd die perfekte antwoord op daardie vraag, “Ek trek myself aan, so ek pleit skuldig.”

Teen vanjaar se Ghoemas in April, het ek darem ook al ‘n goed-voorbereide antwoord op 2012 se wie-dra-jy-vraag gehad. Maar om die storie vir die kykers interessant te hou moet aanbieders soms ‘n onverwagse vraag vra of ‘n gewone vraag op ‘n ongewone manier vra. Dus kan jy seker wees van een ding: as jy nie vir jouself kan lag nie, gaan iemand anders dit doen. Dié dat ons toe maar die bul by die horings gegryp het toe hulle ons vra om Rooirok bokkie in opera-styl te sing! Ek moet bieg – my beste antwoord was egter op dié vraag: “Wie sal julle vanaand wil wén?”

Ek sê weer, wanneer ‘n mens na iets toe kom sonder hoop, geloof of verwagting kan jy soms ‘n lekker verrassing kry – soos ‘n voet in jou mond, want my  antwoord op dáárdie vraag was: “as ons vanaand in ons kategorie teen die Heuwels Fantasties kan wen, gee ek myself ‘n medalje!”