Oom Daantjie

Posted by admin Category: Category 1

Dit mag dalk wees omdat bloed dikker is as enige water, maar ek ken nie ‘n lekkerder 78-jarige oom as my eie pa nie. Daar is niks wat hy nie kan regmaak nie, niemand wat hy nie sal in-nooi vir ‘n “fynetjie” nie, niks wat té veel moeite is nie en nie een Kaleidoskoop vertoning in sy omgewing wat hy nie sal bywoon nie.

Oom Danie is vir seker ‘n lewende legende in die Rawsonville-distrik, stuitig en nog baie jonk van gees. Hy sing in die kerk-koor – en laat hoor Sondae ook baie trots die verdwaalde tenoor-part in die kerk as daar toevallig ‘n koor-liedjie gesing word. Hy is selektief-doof en verwar – tot ons vermaak – woorde soos “sooibrand” met “vyf rand” of “sag sit” met “slap tjips” op strategiese tye. Hy is nie bang om homself of sy familie-lede effe verleë te laat vir die eerste-prys – om ander te laat lag nie. Hy sal selfs my ma toelaat om hom as ‘n ballerina, blinde muis, tandarts of feetjie te gebruik in haar gemeenskaps-konserte.
Daar is niemand wat ‘n grappie kan onthou of vertel soos oom Danie nie… en tot my en Jouba se verbasing het hy híérdie spesifieke een gebêre vir ‘n strategiese oomblik in een van ons vertonings…

Dit was by ‘n knus kuier op een van die wynplase in Rawsonville. Soos gewoonlik was die persiese mat onder ons voete die eerste onderwerp van bespreking en het Jouba almal laat verstaan dat hulle net sowel in ons sitkamer kon sit. ‘n Sitkamer waar ‘n twee-rigting gesprek welkom was. M.a.w. opbouende kritiek – soos as iemand nie kon hoor nie, of ‘n instrument te hard gemeng was.

Oom Danie het so ‘n vuil gewoonte in ons vertonings, om in enige stil oomblik – geleë of ongeleë – op te staan en te sê: “Dis mý dogter daai!” Hieraan was ons al gewoond, dus toe hy daardie aand opstaan het ons geweet wat om te verwag en omdat dit in die veilige omgewing was van mense wat hom en sy streke ken, het ons glad nie omgegee nie…. tot hy begin praat het!

“…ek wil net gou ‘n storie vertel…” Vir ‘n oomblik dog ek ek hoor verkeerd, maar toe besef ek hy het die “twee-rigting gesprek uitnodiging” ernstig opgeneem.

Die vertelling het plaasgevind net nadat ons aangekondig het dat ons die lied Moedersmelk sou sing. “Toe Anique en Joeba (my pa spreek nou nog nie sy naam reg uit nie) dáárdie jare vir ons laat weet het dat RSG uiteindelik ja gesê het om  Moedersmelk vir die eerste keer te speel, klim ons almal die aand in die kar, want daar is nou nie ‘n radio in die huis nie, sien… Toe moes die mense ook nog na die tyd inbel en stem of hulle  Moedersmelk op RSG se speellys wou hê of nie. Die tweede ou tannie bel toe in en die omroeper vra, ‘Nou tannie, hou jy van Moedersmelk?’ en die tannie antwoord, ‘Ag nee jong, gee maar vir my liewers Cremora!’ ”

Ek wens ek kon my pa se dood-tevrede “paw-paw smile” in woorde beskryf, maar ons kon sien hy geniet dit dat mense rondom hom lekker lag. Hetsy vír hom of sáám met hom, was nie op daardie oomblik belangrik nie.

Ons wens is om eendag ook só oud te word – lig, sonder bitterheid en onvergifnis in ons harte. Waar ons kan lag en laat lag, al is dit soms ten koste van onsself.