Band of Brothers

Posted by admin Category: Uncategorized

Met die aankoms in Gauteng vir ons eerste poging tot toer in die Noorde, het ons natuurlik geen mense geken by wie ons kon oorslaap nie. Daar was darem wel dié wat saam met ons op Stellenbosch was wie moontlik vrinne geken het met oop beddens of banke. Dit was ook toe net só… “Hi Michael, ken jy dalk iemand by wie ons kan…” “Ja, man! Daar is so klomp “cool” ouens in ‘n groot huis in Centurion en hulle sal nie omgee…”

Ons was net dankbaar vir slaapplek. Al wat ons voor die tyd geweet het van die klomp “cool” ouens is dat hulle hulself “BOB” genoem het. BOB staan vir Band of Brothers – dít het ons hoofsaaklik die idee gegee dat die klomp saam sal oorlog toe gaan… of so iets? Uitvind het voorgelê.

Met ons Garmin ry ons die vreemde Noorde in en kom genadiglik by die erf in ‘n stillerige buurt in Centurion aan. Opgewonde om bene te rek en bietjie “awkward” omdat ons nog nooit die mense ontmoet het nie, want die storie is gereël met ‘n paar middelman-SMS’e.

Die verwelkoming was vriendelik en vrolik. Lekker mense…studente…mans-studente (sommige met woeste lang hare en vreemde klere, maar baie aangenaam) en ‘n paar vriendinne wat ook rondgehang het. Ons het onsself voorberei vir die gewone – “So, wat swot jy? …waar was jy op skool?” (Nie dat ons die verskil tussen Eldoraigne en Waterkloof geken het nie.) Allerhande ingenieurs en software developers. Dis die antwoorde wat ek gehoor het, maar nie verstaan het nie, maar ek het nie omgegee nie. Ses aangename huismaats vir ‘n aand of wat. Geen neusringe of ernstige tatoeërmerke nie. Ons was veilig.

Hulle het vir ons ‘n sitkamertjie reg gemaak met matrassies in die hoeke en ‘n bank vir ‘n afskorting. Die vriendinne het kos gemaak en tafel gedek en ons gesels het nie opgeraak tot ons moes gaan slaap nie. In die boekrak het ek en Jouba beide ‘n boek gevind om die laaste uur voor slaaptyd verby te kry…toe begin dit! Die onaardste geluid. Eers dog ek iemand is naar – studente kommunes is nie vreemd vir E. coli nie, maar als het mooi skoon gelyk en ons het tog dieselfde kos geëet en makeer niks. My hele medisyne-tassie was by my met al wat ‘n Bevispas en ‘n Imodium is, so toe loop ek solank in die lang gang af opsoek na die bukkende brullende. Ons hoor die geluid weer, maar dit klink vrywillig…aanhoudend en met opset. My kop is op ‘n duisend plekke…dryf iemand ‘n demoon uit? Moet ek roep of waarsku dat ek naby is en nie bang is nie (al was ek)? Die gebrul duur voort, sag, dan hard, dan maak iemand sy keel skoon ek ek skraap my moed bymekaar om deur die gleuf tussen die half oop deur en die kosyn te loer… In die bed sit die makste en gereserveerdste van ons tydelike huismaats met twee massiewe rooi oorfone en ‘n skootrekenaar. Hy kyk na ‘n video, pause dit en maak dan die vreeslikste geluide sonder om ‘n gesig te trek. Dit was die vreemdste ding en ek was so nuuskierig om te weet waarna hy kyk, maar ek kon myself nie so vêr kry om te klop en te vra “wat de hel!” hy maak nie.
Ek suiker toe maar saggies terug sitkamer toe met my medikasie – duidelik onnodig – behalwe dalk vir ‘n Strepsel vir die volgende oggend, want g’n mens kan so grom en nie jou keel seermaak nie!

Die volgende oggend kan ek nie wag om die skepsel uit te vra oor sy vreemde bed-tyd gewoontes nie. Jouba is nog ordentlik en vra eers hoe almal geslaap het, maar ek kon myself nie keer nie…”Hoorie, wát de os het wíe gistraand oorgekom dat hulle so gegrom het?!” …versigtig dat ek nie weggee dat ek reeds weet wíe dit was nie. Die spulletjie begin lag en die brullende bloos skielik met die besef dat hy dalk harder geraas het as wat hy wou.

Band of brothers het blykbaar toe min met “saam oorlog maak” te doen, maar meer iets in die lyn van “saam Christian Metal musiek maak”…. “uhm, ag ons is besig om ‘n band te begin en ek oefen so bietjie om reg te ‘growl’…”

Hóé reg ‘n mens kan “growl” weet ek nie, maar ek weet ek ken ‘n paar ingenieurs en software developers met geheime drome en moontlik bekommerde bure.