Blikkies en die hoes

Posted by admin Category: Uncategorized

In Kaleidoskoop se baba-dae (2009/2010) het ons vertonings heelwat anders gelyk as nou. Kaartjies het R20 gekos, die dekor het uit vreemdelinge se tuine gekom, ons het ons profyt (indien enige) in ‘n tekkie ipv ‘n bank-rekening gebêre en daar was twee ekstra band-lede nl. Ben en Blikkies.

Ben (en sy vingers) was lank en maer met ‘n off-beat sin vir humor en baskitaar-lyne. Blikkies was Ben se laptop.

Dit is deesdae algemeen vir kunstenaars om wat hulle noem loops te gebruik. Vir dié wat nou frons – ‘n loop is een of meer stukkies musiek of perkussie ritmes wat jy lewendig op die verhoog opneem. Die stukkie musiek kan dan oor en oor terug gespeel word terwyl jy lewendig iets anders bo-oor dit speel en sodoende jou liedjie inkleur. In Kaleidoskoop se vertonings was dít hoofsaaklik Ben en Blikkies se werk…inkleur.

Nie net het Blikkies spesifiek ons lewe met loops ingekleur nie, maar ook met frustrasie, omdat hy soms net nie lus was vir die show nie. Enige iemand wat ‘n Blikkies besit behoort te weet waarvan ons praat. Die naam Blikkies verwys nie net na “blik-brein” nie, maar ook na die kragwoord wat ge-uiter word as Blikkies nie wil saamspeel nie. Op die dae wat Blikkies wel sy kant gebring het, was dit magic! Dit was die lekkerste ding om te sien hoe die gehoor verward sit en soek na die vierde lid van die band wat die perkussie aanhou speel sodat Ben sy kitaar kan optel. Maar, soos met baie dinge in die lewe, is die maak van magic gewoonlik ook effe riskant. Indien daar enige fout in die stukkie musiek is wat opgeneem word en jy dit nie besef nie, sal die fout saam met die stuk musiek ge-loop word.

Vir dié rede het ons die dele wat ons ge-loop het baie geoefen en goed geken, maar dít alleen was soms nie genoeg nie…

Dit was in Bloemfontein op die Kovsie-kampus. ‘n Heel skaflike aantal mense het opgedaag vir die vertoning en doodstil gesit en luister hoe ons hulle eers verwar en toe verduidelik het wie Blikkies is en wat hy doen. Dit was in die winter, so ek neem aan iemand het ‘n lastige kriewel-keel agv ‘n verkoue of iets gehad, want net mooi in die stukkie loop van Stellenbosch-kind – waar Jouba soos ‘n boesman met sy tong ‘n ritme klap – sal iemand gaan staan en hoes! Nog voor Ben besef wat gebeur het, trap hy die play-knoppie op die loop-pedaal en daar begin die spul te speel.

Eers was ons onkant gevang en ek verloor amper die lirieke, tóé wou ons lag, maar heelaas was ons so beïndruk, want ons kon nie glo hoe ‘n siek Bloemfonteiner so rég op ritme kon kug om ook te help inkleur aan ons lied nie!