Anique is ‘n laatlam wat grootgeword het op ‘n wyn-druiwe plaas in die klein dorpie, Rawsonville, tussen die Bolandse berge. Sy was van kleins af lief vir plate, radio en kasette luister en het gou ‘n waardering vir enige genre van musiek ontwikkel. Sy het haarself op gehoor leer klavier speel en op vier-jarige ouderdom reeds haar eerste klavier-uitvoering by die kerk se basaar gelewer. Op sewe begin sy met klavier- en blokfluit-lesse by Hoërskool Goudini en as elf-jarige hang sy haar ballet-skoene op in ruil vir sang-lesse by die Anchen Schreuder Acadamy of Music. Teen matriek voltooi sy haar Graad sewe UNISA klavier-eksamen en neem sy aan verskeie sang-kompetisies deel o.a. Idols, KWV wynland talentkompetisie, Gemini sangkompetisie asook ATKV Bravura en Crescendo. Vir haar eerste TV-opname het Ollie Viljoen haar, op sestien, genooi om as gaskunstenaar op die program “Maak-‘n-Las” te sing.

As Matie op Stellenbosch, studeer sy BSc Menslike Lewenswetenskappe en voltooi ‘n honneurs-graad in Fisiologie. Sy sing vir drie jaar in die Stellenbosch Universiteits-koor onder André van der Merwe en toer saam met dié koor na Graz, Oostenryk vir die wêreld-spele. In haar tyd op Stellenbosch lei sy ook die Metanoia dames sêr-groep wat in 2007 die nationale kompetisie gewen het – dit is ook hier waar sy die eerste keer die lied “Zombie” deur die Cranberries begin sing het.

Nadat sy ‘n vertoning van Kaleidoskoop (wat toe uit Jouba Jordaan en Gerhard Liebenberg bestaan het) bygewoon het, het sy ‘n groot aanhanger van die groep geword en hul album aangeskaf. Met die hoop dat sy reeds die liedjies se woorde ken, vra Jouba haar in 2007 om vir Gerhard in te staan en vir die eerste keer saam met Kaleidoskoop op te tree. Daarna het sy gereeld as gaskunstenaar saam met die groep opgetree en is in 2009, direk ná sy haar honneursgraad voltooi het, van “fan” tot lid van die “band” bevorder.

Anique geniet kinders, kook en onthaal. Sy verf en maak graag goed met haar hande en sien altyd uit om tyd in die natuur en saam met haar familie op die plaas te spandeer wanneer daar ‘n kans is.

Jouba is op oujaarsaand gebore en het die eerste twaalf jaar van sy lewe in die klein dorpie Kremetart, reg langs die Kruger wildtuin se grens, gewoon. Met invloede uit die sestiger-jare het hy ‘n liefde vir musiek van o.a. die Beatles, CCR en Paul Simon gekweek – min wetend hoe dit eendag sy toekoms sou beïnvloed. Op dertien jarige ouderdom verhuis sy gesin na die pragtige plattelandse dorpie, Swellendam, waar Jouba gematrikuleer het. Na skool studeer en verwerf hy ‘n BSc Wingerd en Wynkunde graad aan die Universiteit van Stellenbosch. Dis ook hier waar hy, as eerstejaar student in die koshuis, vriende ontmoet wat kitaar speel en self ook daarin begin belangstel. Aan die einde van sy eerste jaar het Jouba op ‘n ski-oord in Oregon, VSA gaan werk en ‘n kitaar met sy spaargeld gekoop – dieselfde een waarmee hy steeds speel en optree. Jouba en drie van sy musikale vriende in die koshuis het saam begin sing onder meisies-koshuise se vensters en later, soos hulle gewildheid verwerf het, ook by ander geleenthede. Hy en een van die vriende, Gerhard Liebenberg, besluit daarná om Kaleidoskoop te begin en stel in 2007 hul eerste album Bladwisselend vry. Terselfde tyd ontmoet hy vir Anique (wat toe nog studeer het) en het hy haar en haar sêr-groep genooi om ‘n vertoning van Kaleidoskoop te kom kyk – waar sy toe ‘n CD koop. Met dié dat Gerhard een aand nie beskikbaar was vir ‘n vertoning nie, het hy Anique gevra om in te staan en vandaar die begin van Kaleidoskoop soos ons hom vandag ken. Intussen maak hy wyn vir die Universiteits-kelder, gaan pars hy in Nieu Seeland en maak hy wyn vir ‘n jaar in Australië asook by Rustenberg wynkelder net buite Stellenbosch. Einde 2009 maak hy die moeilike en groot besluit om eers die wynmakery op sy te skuif om voltyds aan Kaleidoskoop se eerste album aandag te gee.

Jouba geniet visvang, kamp, stap toere, om leer- en houtwerk te doen en waardeer steeds nou en dan ‘n goeie wyn.